As ek terugdink aan my voorskoolse dae, is een van die beste herinneringe die area waarin ek grootgeword het. Welteverdenpark was in die 1980’s nog ‘n onderontwikkelde voorstad van Johannesburg. Dit was omring deur landerye en oop stukke veld.
Ek dink ek was nog altyd lief vir verken, want die omgewing het my toegelaat om vrylik af te loop oorkant die straat na ‘n spruit waar daar lieflike wilgerbome gegroei het. Ek het vir ure geklim en in die lang wilgertakke rondgeswaai. Ek was omring deur plaaslewe in die stad. So entjie van ons huis af het die boer ‘n graslandery geplant, en ons kon jaar in en jaar uit op ‘n massiewe grasperk gaan speel.
Ek onthou ons sou na ‘n reënbui gaan stap het saam met my ma en dan het ons kniediep in gladde, rooi modder gaan speel. Op die modderpaaie het daar ook melkkoeie gereeld verby ons geloop.
Ek wens dit vir my drie seuntjies.
Die vryheid van daardie jare lewer kosbare kinderdae herinneringe. Ook die groot bome op ons huis se erf het ek geklim. Ek het op ons bure se mure geloop, oorgespring en gaan verken.
Die bome op ons erf was besonders. Ons het drie dennebome gehad, ‘n ou wattleboom met enorme olifanttakke en ‘n tipoeboom op die sypaadjie waarin ek gimnastiek geoefen het. As ek terugdink aan die hoogtes wat ek geklim het in een van die dennebome, dan besef ek hoe vry ek was as kind.
Nog heerlike herinneringe is die swembad reg langs my en my sussie se kamervensters. Ek het middae om geswem—die water was altyd lou te danke aan veselglas waarvan die swembad gemaak was. Die swembadpomp het gereeld die klank van kabbelende water na my slaapkamer gestuur. Dit was hemels.
Maar dan was daar ook aande waar my pa in die gang afgeloop het en gebrabbel het in vreemde klanke. ‘n Donker atmosfeer het oor ons huis getrek, en as kind het ek dit ervaar met my geestelike “sintuie”. Dit het my angstig gemaak en het herinneringe gelos wat tot vandag nog ‘n alarm in my binneste laat afgaan.
Ek dink dit is my vroegste herinnering aan ‘n bose teenwoordigheid.
As ‘n laerskoolkind het ek ervaar dat daar ‘n mate van afwesigheid was in die babbelende oomblik en dat iets anders teenwoordig was. Dit het vrees in my lewe gedeponeer en my onveilig laat voel. Ongelukkig sou my pa deurgaans my grootwordjare alkohol toelaat om ‘n groot plek in ons huis op te neem. In die tye het ek gereeld ‘n donker wolk ervaar wat oor ons lewens kom hang het. Later was dit permanent in die atmosfeer.
Kinders se Onderskeidingsvermoë/ Oop Deure en Demone
Ouers moet nie die onderskeidingsvermoë onderskat wat kinders het wanneer hul hulself ‘n donker (of bose) geestelike atmosfeer bevind nie. Kinders is dikwels meer geestelik oop as volwassenes omdat hulle nog nie deur wêreldse invloede verhard is nie. Dit is belangrik dat ons as ouers ook nie ons geestelike onderskeidingsvermoë verloor nie. Ware onderskeiding kom deur om in die lig te wandel sodat jy die donker kan uitken. Wees gered en gevul met die Heilige Gees.
Jy is die een wat waak hou oor die gees, siel en liggaam van jou kind saam met die Here. Dit is belangrik om wakker te wees tot wat in die geesteswêreld om jou aangaan, veral in jou huis.
Derek Prince plaas ook klem daarop dat ons as ouers nodig het om ons kinders op te lei om God se stem te kan onderskei van ander stemme, geeste of eksterne invloede. Hy stel voor om gereeld saam met jou kinders te bid, veral voor slaaptyd en ook wanneer julle saam Bybel lees. Wanneer julle bid, vra die Heilige Gees om die waarheid vir hulle te openbaar.
Daar is soveel waarde daarin om jou kinders ook na ‘n kerk toe te vat waar mens die Heilige Gees se teenwoordigheid ervaar. Ek het eers hierdie ervaring gehad toe ek 25 jaar oud was. Hou aan soek totdat julle dit kry.
Net soos mens die Heilige Gees kan onderskei in ‘n kerk se atmosfeer, is daar ook plekke waar mens ‘n donker en verdrukkende atmosfeer ervaar. Dit is die teenwoordigheid van boosheid.
Efesiers 6:12 (AFR20) leer ons die volgende: “Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim.”
Normaalweg is Christene omgrens in die geesteswêreld sodat demone nie in kan inkom nie. Een Johannes 5:18 (Amplified Classic weergawe) verduidelik die volgende: “We know [absolutely] that anyone born of God does not [deliberately and knowingly] practice committing sin, but the One Who was begotten of God carefully watches over and protects him [Christ’s divine presence within him preserves him against the evil], and the wicked one does not lay hold (get a grip) on him or touch [him].”
In haar boek, A Vessel of Honour, verwys Rebecca Brown ook na die skrif uit Prediker 10:8 waar die volgende geskryf staan: “Wie ‘n kuil grawe, kan daarin val, en een wat ‘n muur afbreek, ‘n slang sal hom byt.”
Sy is van mening dat hierdie skrifte dui daarop dat Christene skade kan doen aan, of gate kan maak in, die omgrensende beskerming wat die Here gee vir Sy kinders. Ons doen dit deur te sondig.
In Lukas 10:19 verwys Jesus ook na demone as slange en skerpioene.
Rebecca Brown (en ander) bedieninge noem hierdie gate wat mens in die omgrensende beskerming van die Here veroorsaak, oop deure.
Kyk gerus ook na Pablo Botarri se Four Doors Tool wat mens leer van vier sleutel areas of “deure” waardeur verwoesting ook kom, naamlik vrees, haat, seksuele sonde en die okkulte. Hy het ‘n boek geskryf met die titel Free in Christ: Your Complete Handbook on the Ministry of Deliverance” en sy tegnieke word onder andere by Bethel se Sozo bediening ook gebruik (Sozo was ‘n bediening wat my later in die lewe baie gehelp het om met my verlede vrede te maak en vry te kom, maar meer oor dit later in die boek).
***
Daar is ‘n spesifieke dag wat ek nog heel goed kan onthou. Ek was vyf jaar oud en my ma-hulle het vir ons biblioteek boeke uitgeneem. Ek het een gehad met groot planete in en op ons klimraam gaan sit om vir ons buurman se seuntjie, kom ons noem hom *Jared, die prentjies in die boek gewys.
Hy was ‘n jaar ouer as ek, en ek kon nie ‘n woord Engels praat nie. Rooi hare met sproete en ‘n jonger sussie wat ‘n ideale speelmaatjie gemaak het vir my 18-maande jonger sussie.
Ek was nog altyd ‘n onafhanklike rabadoe met waagmoed en dus was dit glad nie vir my vreemd om oor die muur te spring en te gaan speel nie. Daar was ‘n leer teen die muur gesit, en ons het ure tussen die twee huise se tuine en swembaddens spandeer in daardie dae van ons lewens.
Ek het ‘n seuns maatjie baie geniet, en ek dink my sussie, wat ‘n sagter geaardheid het as ek, het weer lekker perdjie en pop gespeel saam met *Lisa.
Maar raai wat.
Nog donker trauma.
Jared se pa het my en my sussie gemolesteer.
Weereens het hierdie inligting eers uitgekom dekades later, toe my genesingspad saam met die Here wel opdreef was.
My sussie het dit vroeër onthou. Sy het dit vir my probeer vertel by ‘n Mugg en Bean toe ons nog studente was in ons twintigs. Sy is weer gered op universiteit en die Here het dit vroeg in haar pad saam met Hom vir haar uitgewys vir genesing. Myne het eers in die afgelope twee jaar opgekom, seker omdat daar soveel lae van trauma oor tyd was. Vader God vat dit een laag op ‘n slag en weet wat jy wanneer kan hanteer.
Daar was tekens van seksuele mishandeling. Ek het vroeg in my lewe vir een of ander rede my geslagsdele begin stimuleer. Ek onthou dat ek langs my ma in die bed gelê het een middag en ‘n drang gekry het om myself seksueel te stimuleer.
Ek kan die gruwel onthou waarmee my ma reageer het. Sy was geskok in wat sy waargeneem het ek doen op so jong ouderdom. Ek dink ek was seker sewe jaar oud gewees, dalk nog jonger.
Ek het dit gereeld gedoen in die laerskool en het dadelik geweet dit is verkeerd.
Vrymaking van Ongoddelike Verbindings
In onlangse beradingsessies waar ek spesifiek gaan praat het met ‘n persoon wat bevryding doen, het ek genoem dat ek op die ouderdom van 43 steeds met perverse drange oorweldig word. Dis nadat ek jare terug daardie deur toegemaak het, sondes belei het, afleggingsgebede gedoen het en die geestesryk weggejaag het wat enige perversie my kant toe bring.
Moedeloos het ek na hom te gegaan en gesê asseblief help. Daar is nog ‘n deur oop iewers. Dit was nie my eerste sessie by hom nie, maar dit was die eerste keer wat ek spesifiek met hierdie aspek van my lewe na hom toe gekom het.
Sy eerste vraag aan my was: “Het jy as jong kind jou geslagsdele gestimuleer, naamlik gemasturbeer?” Dit is ‘n teken van seksuele mishandeling.
Dit het iets vir my bevestig, maar my onderbewussyn het dit so onderdruk dat ek tot vandag nie al die besonderhede kan onthou nie. Tog het ek altyd gewonder of ek nie dalk gemolesteer was iewers in my lewe nie.
Ek weet nie of die Here my gaan toelaat om alles te onthou nie, maar dit wat ek wel vaag onthou het in daardie sessie, het ons gebruik om vrymaking en genesing toe te dien.
‘n Geleentheid vir Genesing
Die tegniek wat hierdie persoon in bevrydingsbediening gebruik, is vir jou om makliker te kan vergewe deur toe te laat dat Heilige Gees jou wys hoekom die oortreder so opgetree het.
In die sessie het Vader vir my gewys dat hierdie man baie afgebreek was deur sy pa. Ek dink as ek reg onthou daar was fisiese geweld in die vorm van erge pakslae. Dan kan mens verstaan dat die vrug van so mishandeling is om mag te bekom oor weerlose kinders.
Dit skeld hom nie vry nie, want ons elkeen is verantwoordelik vir die effek van ons lewens. Die wonderlike ding van vergifnis is dat dit dan die Here toelaat om geregtigheid toe te dien.
Ons gaan almal moet pal staan vir ons sondes. Ons moet almal aanhou skoonmaak.
Dus kon ek hom vergewe. Maar vanoggend moes ek hom weer vryspreek want hierdie gebeurtenis in my lewe het my DNA so verander en aangeraak dat ek vir amper 40 jaar al sukkel met wellus, seksuele sonde en perversie in my lewe (dit maak ook die deure oop vir generasie seksuele sonde om te begin deurvloei).
Soveel so dat ek dit so onderdruk het dat dit volksvreemd vir my sou voel dat daar enigiets skeel met my daardie tyd van my lewe.
Was dit net hy wat alles die oorsaak van was?
Nee, ek is seker daar was merkers waarmee ek gebore was. Maar was die deur oopgeswaai deur hom? O ja.
Volgens aanlynbronne is “molestering” ‘n vorm van seksuele aanranding, gedefinieer as die blootstelling van ’n persoon, meestal ’n kind, aan ongewensde, onbehoorlike of onwettige seksuele toenaderings of fisiese kontak.
Dit kan verder gedefinieer word as enige seksuele aktiwiteit tussen ‘n volwassene (of ouer kind) en ‘n kind wat aanraking (betasting, seksuele kontak) en “nie-aanraking” (ontbloting, pornografie, verbale seksuele teistering) behels. Dit is ’n ernstige kriminele oortreding, dikwels geklassifiseer as ’n ernstige misdaad.
Iemand wat seksueel mishandel word, soos byvoorbeeld molestasie, word geforseer in ‘n band (of konneksie) met die persoon wat hulle seksueel oortree.
Kanaan Ministries se handleiding Dealing with the Giants and Strongholds verduidelik dat ‘n gees- of sielsband die saamweef van een persoon se siel met die siel van ’n ander is. Dit kan ’n wonderlike seën wees in ’n goddelike verhouding soos ‘n huwelik. Maar dit kan egter ook verskriklike verwoesting veroorsaak as dit met die verkeerde persoon gevorm word.
Goddelike gees-/sielsbande is baie voordelig en gesond. Dit is deur die HERE ontwerp om mense saam te bind in die huwelik, familie en vriendskap. Tog, hoe belangrik en heilig hierdie bande ook al is, kan die vyand dit op ongoddelike maniere gebruik wat baie vernietiging en pyn kan bring. Dit is hierdie ongoddelike gees-/sielsbande wat verbreek moet word.
Tydens ongoddelike seksuele omgang gebruik die vyand juis hierdie beginsel om ‘n band te vorm tussen die slagoffer en oortreder sodat daar ‘n oordrag van bose geeste plaasvind.
Kanaan Ministries se handleiding verduidelike die volgende:
“If a child has been molested, the same spirit is transferred to the child and that spirit attracts other spirits. Many times any form of sexual abuse will result in addiction to masturbation. Lust and perversity are also transferred, as well as many other evil spirits. It is very clearly seen through homosexual contacts. Homosexual spirits are very strong and many struggle to get free. Satanists also know the power of sexual contact – therefore it forms a very important part of their rituals [this is also why in ancient paganism there were temple prostitutes]” (Kanaan Ministries)
Dit is skrikwekkend om te weet, maar ons moet onthou dat die bloed van Jesus die finale sê het in die geesteswêreld en die mag van ongoddelike sielsbande tussen mense.
Genesing van enige vorm van aanranding en misbruik is ‘n tydsame proses. Maar volle genesing is moontlik saam met die Here. Hou net aan opdaag en hê jou “geestelike gereedskap” reg, naamlik om te vergewe, om vry te spreek, om ongoddelike bande te breek en om te seën. Dan nooi jy Vader deur Sy Gees in daardie wond in om te genees. Dan kan Hy die werk begin doen op Sy manier en in die tyd wat dit vir jou die beste gaan wees.
Beskerm Jou Kinders
Die resultaat van my ervaring met seksuele misbruik is dat ek ‘n hiperwaaksame ouer is saam met baie ander ouers in ons generasie. Die tye is donker en die duiwel kruip weg, maar as jy as ouer wakker en paraat is, dan sal Heilige Gees jou uitwys waarteen om jou kinders te beskerm.
Ek kom teen die neiging vandag wat ouers as “helikopter” ouers bestempel. Kom ons dink eerder daaraan as ouers wat gelei word deur Sy Gees om ons kinders te beskerm. Ons tree op in kontras tot die moontlike onkunde van vorige generasies wat kinders onnodig blootgestel het aan mense en situasie wat hulle affekteer het in maniere wat hulle glad nie kon prosesseer met hulle onvolwasse breintjies en menswees nie.
Om saam met The Clewer Institute se skrywe te stem, is daar heelwat Bybelse riglyne wat ons moet toelaat om ‘n denkwyse te ontwikkel rondom beveiliging en versorging van kinders en jongmense.
Dit is ‘n godgegewe verantwoordelikheid.
Eerstens moet ons opstaan vir mense wat kwesbaar is. Spreuke 31:8 in die Amplified Classic sê: “Open your mouth for the mute, […] for the rights of all who are unfortunate and defenceless.”
Kinders is ook besonders kosbaar vir God (Genesis 21:17; Markus 10: 13–16; Matteus 18:5–6). Hulle het ‘n spesiale plek in sy hart. Jesus waarsku in Matteus 18:6 dat “wie een van hierdie kindertjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n maalklip van ‘n donkie om sy nek gehang word en hy wegsink in die dieptes van die see.”
Dit bly ons verantwoordelikheid om hulle te beskerm saam met hulle hemelse Vadeer, deur gebed, praat, besluite en aksie.