Hoofstuk Vier: Skeefgesnoei in ‘n Prestasie Kultuur

Die laerskoolfase van my lewe het gekom met ‘n kenmerkende vloed van buitemuurse aktiwiteite wat deur my lewe gespoel het. Ek het alles gedoen: Ballet, koor, skaak, netbal, swem, gimnastiek, atletiek, redenaars, tennis, klavier, rekenaarklasse en drama met al die gediggie opsê wat daarmee gepaard gaan.

As ek terugdink onthou ek dat dit emosioneel uitputtend was vir my nie-kompeterende temperament, maar darem het mens baie energie wanneermens jonk is. Die jong-mens energie neem egter nie die spanning weg nie.

Ek vermoed groot uitblink was hoog op die agenda in prominente Afrikaanse families in Johannesburg. Ek was semi-deel van een aan my pa se kant, dus het al daai hoë-druk vormingspaaie op my gewag. My ma het verder daartoe bygedra. Sy was ongelukkig vreeslik gedrewe en het my potensiaal uiters hard probeer uitroep met ‘n baie besige naskoolse aktiwiteitslewe. Dit was die begin van my prestasiegedrewe jare en die verkrummeling van my verhouding met haar.

Ek was die oudste en het meer sportief voorgekom as my suster. Ek lyk ook baie soos my ma en het uitwaarts gelewe. Dus dink ek het sy my opgesom as iemand wat daardie hoogtes sal bereik. Ek moes kompeteer en dit was glad nie in my geaardheid nie, wat daartoe gelei het dat ek begin ooreet het.

Ek onthou een gimnastiekkompetisie waar my ma my geskel het omdat ek die hele tyd gesit en knibbel het aan my peuselhappies terwyl ons gewag het om ons roetine te doen. Ek was seker agt of nege jaar oud.

Dit is jammer dat sy dit nie raakgesien het as ‘n stresreaksie in ‘n jong lyfie nie. Dit is jammer dat sy in daardie dae ongesonde begeertes deur my lewe uitgeleef het. Sy het my hard grootgemaak vir die harde lewe daarbuite.

Daar is egter ook ‘n deel van my wat wonder of sy nie net dit vir my wou gun wat sy nie kon geniet toe sy klein was nie. 

Ek dink in haar hart van harte was dit haar liefdesbrief aan my en aan haar innerlike kind. Dalk wou sy die geleenthede vir my gee wat sy nie as ‘n talentvolle sport liefhebber gehad het nie.

Ongelukkig was ek toe nooit die talentvolle sportliefhebber waarvoor sy gehoop het nie. My en my ma se temperamente verskil heelwat van mekaar. In Hettie Brittz se Kweek Kinders met Karakter (2007) gebruik sy ‘n boomsoortprofiel om verskillende temperamente te kategoriseer. Die vier hooftipes is palmbome, dennebome, roosbome en sierbome. Mens kan ‘n kombinasie van die temperamente wees.

Kort opsommend is my ma se temperament ‘n sterk roosboom: taak gerig, vasberade en doelgerig. Sy is lief daarvoor om in beheer te wees en baie selfstandig.

In kontras is ek weer ‘n palmsierboom wat geniet om die vloei te volg en sosiaal te wees, partykeer ook ernstig en deeglik. Ek kan maklik verveeld of moedeloos raak en koester vryheid met ‘n sierboomkant wat bogemiddeld sensitief kan wees.

Ons is heeltemal anders.

Haar fout het ingekom toe sy ‘n mini-weergawe van haarself in my probeer kweek het. Ek dink sy sou my laerskool lewe baie geniet het met die deurlopende kompetisies en besig wees. Ek wou eintlik net geliefd gewees het en gevoel ek hoort met baie drukkies en liefde. Dit is al. Maar dit was in min voorraad by ons huis in daardie tye. 

Elke kind is anders en mens kry ‘n groot klomp verskillende temperamente. Mens deesdae makliker meer daaroor uitvind met al die inligting tot ons beskikking. Ek dink dit is belangrik in vandag se tye die moeite te doen om jou kind se temperament en persoonlikheid te probeer verstaan. Dit sal hulle laat voel asof hulle raakgesien word, wat so belangrik is om geliefd te voel.

Jou kind het heelwaarskynlik ‘n ander temperament as jy. Laat dit stadig ontwikkel teen ‘n pas wat natuurlik is vir die kind en vir jou. Hettie Brittz se Kweek Kinders met Karakter bied saam met die boomsoortprofiele wonderlike sleutels om jou kind beter te verstaan.

Om ‘n kind se dieper dimensies verder te leer ken, is spelterapie ook beskikbaar. Dit is ‘n wonderlike bediening wat deel vorm van kinderberading. Kinders het ook nodig om hulle lewens te prosesseer en seer plekke in hulle siele te genees. Soos ons weet, die lewe gebeur met ons almal.

Bemoediging: Vra Die Here

Ek wil nou nie ouers laat skuldig voel oor hulle besluite nie, maar na baie dink is daar net een eindpunt waarop ek kan afkom:  Vra die Here. 

Moenie alleen besluite maak oor jou kind se aktiwiteite, skool keuse of vak keuses nie. Maak dit jou werk om jouself te ontwikkel na ‘n plek waar jy die Here se stem kan hoor vir jou en gesin se lewens.

Ons kinders is Sy kinders eerste; ons is hulle aardse ouers. Dit is belangrik dat ons onsself onderwerp aan Sy stem oor ons kinders.

Om vrede in mens se hart te volg is altyd ‘n goeie beginpunt. As jy nie vrede het oor iets nie, is dit ‘n teken. As jy twyfel en wonder oor watter rigting jy jou kind in moet stuur, wag. Bid en vra vir wysheid, insig. Vra dat die Here vir jou iets sal uitlig oor die aktiwiteit of jou kind. Hou dalk ‘n kwartaal oop met niks op die kalender nie, en let op wat trek natuurlik jou kind se aandag. Jou oë sal oopgaan vir waar jou kind sal floreer eerder as seerkry of skeefgesnoei word.

***

Hierdie prestasie kultuur loop egter die risiko om onnodige, intense druk te vroeg op kinders te sit. Wees versigtig dat skole se skedules en verwagtinge nie oor julle huis kom as die kontoere waarin jou kind moet pas. Soek eerder ‘n balans tussen prestasie-gedrewe aktiwiteite en om jou kind te leer ken. Maak seker dat jy multidimensioneel na hulle kyk en hulle laat ontwikkel in ‘n vol mens. Skool en bygaande aktiwiteite is net een komponent daarvan.

Dit is belangriker dat kinders groot word in ‘n geestelike huis waar hulle kan voel hulle behoort. Ek dink enige klein laerskool kind wil net raakgesien word, geborge en geliefd voel en aangemoedig word om te floreer in hulle unieke ontwerp. Tyd op aktiwiteite soos emosionele ontwikkeling, geestelike groei en selfkennis is net so belangrik. Daarom is die eerste prioriteit om hulle te omring met liefde en ‘n omgewing van veiligheid te skep waar hulle Jesus en Sy Goeie Nuus kan leer ken. 

Dan laastens kom sportdruk en talentontwikkeling. Die top sport sterre wat ons ken in die wêreld het dalk begin toe hulle onder tien jaar oud was, maar daardie persentasie is sandkorrel klein. My man vertel my dat sy Oupa homself leer tennis speel het toe hy al gevorderd was in die lewe.

Ons kinders hoef nie elke sport onder die son te leer in laerskool nie. Hulle het hulle hele leeftyd om  self te kies wat hulle aan blootgestel wil word.

Daar is ‘n verskil tussen ‘n malle gejaag in jou laerskool kind se lewe en ‘n aktiewe leefstyl. Doen eerder iets saam met jou kind, soos om fiets te ry of tennis saam te speel vir die lekker. Hulle wil eintlik net speel. Is dit werklik nodig vir so baie struktuur en instruksies, vir nimmereindigende kompeteer en presteer? Vat ‘n oomblik en vra jouself af: Wat is die punt?

Vir my is dit ‘n belaglikheid om kinders teen mekaar te laat kompeteer vir posisie en prestige. Jy mag dalk besig wees om jou kinders op die altaar van prestasies te sit as gevolg van ‘n afgod in jou eie hart. Ja, laat hulle speel en laat hulle wen, maar hulle hulle kindwees geniet. Doen moeite om uit te vind wie hulle waarlik is buite die wêreldse skoolsisteem.

Vat dalk aan die begin van elke jaar ‘n dag om te bid en die Here te vra hoe Hy wil hê ons moet Sy kinders grootmaak. 

Soos Psalm 127: 3–4 met ons deel: “Kyk kinders is ‘n erfdeel van die Here, en die vrug van die moederskoot is sy beloning. Soos pyle in die hand van ‘n held is, so is kinders van die jeug.”

Kinders is pyle wat spesifieke rigtings het om in “geskiet” te word. Dit is hulle unieke roeping van die Here af, die “ware noord” waarin Hy hulle wil stuur. Ons as ouers moet hierdie waarheid laat insink en intensioneel tyd vat om by God uit te vind wat is die regte rigting waarin ons ons kinders moet stuur.

‘n Geleentheid vir Genesing

My genesing het begin in ‘n innerlike genesingsessie waar mens alles ontvang vanaf die Heilige Gees deur prente en indrukke. Toe ek op ‘n stadium my ma vergewe het vir iets wat die Here opgebring het uit my verlede, het Hy my gewys dat Hy my sag gemaak het.

Ek onthou watter skokkende vreemdheid dit vir my was dat dit is hoe die Here my sien: as iemand sag. Al wat my ma in my ingeprogrameer het, was dat ek moes hard en sterk wees. Vir haar was die lewe een groot sportsbyeenkoms waaraan jy deelneem en jou beste doen.

Sy was teleurgesteld elke keer as ek nie uitgeblink het op die netbalbaan in die laerskool nie. Ek was mos haar kind, en sy het verwag dat ek nes sy hulpdoel moes speel in die A-span en eventueel hoofmeisie word. Ek was dus altyd in vergelyking en kompetisie met wie sy was, en haar teleurstelling in my het baie seer veroorsaak.

In daardie Sozo sessie het die Here my egter gewys dat ek mag maar sag wees. Ek mag wees wie Hy my gemaak het om te wees, al is dit nie wat my ma van my verwag het nie.

Ek dink hierdie roer my diep aan want ek het juis nou ook drie kleintjies en maak hulle heeltemal anders groot. Ek is waaksaam teen druk, koekie drukkers en onnatuurlike spanning wat op hulle geplaas sal word. Soos genoem beywer ek myself om te hoor by die Here waar hulle moet wees, wat hulle moet doen en wat die beste is vir elkeen. Ek ag Sy opinie oor hulle belangriker as my behoefte om hulle lewens te ontwerp rondom aktiwiteite en plekke wat my pas.

Buiten vir Sozo het die Here deur terapeute ‘n ander tegniek onder my aandag gebring om my innerlike kind te genees. Die tegniek is “reparenting”. Dit stel jou in staat om dele van jouself te genees wat seergekry het as kind deur op te tree soos ‘n volwasse, geneesde ouer vir daardie deel van jou. Ek het ‘n groot deurbraak gehad toe ek besef het dat baie van my angs word effektief gestil as ek in die oomblik vir myself vra: “Wat het jy nou nodig?”

Dit help baie om bewus te word daarvan dat jou angs dalk kom van ‘n plek wat nooit gehoor is of waarop daar nie ag geslaan was as kind nie. Deur hierdie bewustheid kan jy in ‘n oomblik vir daardie deel van jouself intree as ouer in die manier wat jy dalk met jou eie kinders werk. Jy kan daardie kleiner weergawe van jouself sien in jou verbeelding, omhels en veilig laat voel.

Ek was uit die veld geslaan toe ek dit die eerste keer probeer het. Dit was baie effektief. Ek het gevind dat die emosie en stresreaksie dadelik bedaar. Daardeur het ek besef dat daar waarlik dele van my is wat nog nodig het om geborge te voel.

Vir meer informasie oor “reparenting”, lees gerus enige goeie boek oor “inner child healing”. Ek beveel ook aan dat jy ‘n berader wat gevul is met die Heilige Gees gaan sien om jou te help om trauma, mishandeling of verwaarlosing vanuit jou kinderjare te genees.