Met my geboorte het my ouers ‘n vrolike ekstrovert ontvang wat laggend ander maats op die strand gaan soek het sodra sy kon loop. Ek kan nie veel onthou van hierdie tyd van my lewe nie, behalwe nou as ek skryf weet ek (te danke aan Gees-geleide terapie sessies) dat ek verwerping baie vroeg in my lewe ervaar het.
In my proses van innerlike genesing is dit aan my geopenbaar dat my ouers nie dadelik kinders wou hê nie en nie juis daarvoor beplan het nie. Ek kan dit heeltemal verstaan. Ek kan dit ook verstaan as ‘n mens glad nie eers sulke gedagtes teenoor jou kind onthou nie, of dalk nie eers geuiter het nie. Pasgetroud, skaars uit universiteit en sonder dat jy regtig veel daaroor gedink en gesels het, het ouerskap vinniger gearriveer as wat jy verwag het dit gaan.
Baie van ons ontvang onverwagte nuus met skok en dit neem ‘n rukkie om tot ‘n lewensveranderende gebeurtenis aan te pas.
Maar ek het blykbaar hierdie verwerping ervaar en ‘n wond opgedoen in my innerlike mens. Ek het deur my genesingsproses geleer dat mens se siel en gees verwond kan word, net soos ‘n mens se liggaam.
Wat ek ook graag wil noem op hierdie punt, is dat tyd nie altyd wonde genees nie. Ek het geleer dat party wonde hulp nodig het om te genees.
Volgens die Cambridge woordeboek is ‘n wond “beskadiging tot ‘n area van mens se liggaam.” Beskadiging weer is “wanneer ‘n persoon, plant, dier of die skepping oortreding” ervaar en dit pyn en besering veroorsaak. Net soos ons liggame pyn en besering ervaar, ervaar ons siel en selfs gees ook pyn en besering.
Iemand wat in diepte ‘n studie oor hierdie konsepte gemaak het, is Arthur Burke deur sy bediening Sapphire Leadership Group (“Sapphire Leadership Group”). Hy het oudio reekse vrygestel in die vorm van “Baby Blessings”, “Joy and Baby Blessings: Peace” asook “Ministering to Babies in the Womb”. In hierdie reekse beklemtoon hy dat die menslike gees teenwoordig en aktief is vanaf die oomblik van bevrugting. Volgens hom is dit van waarde om na die volgende skrifte in konteks te kyk:
- Jeremia 1:5: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak.” (AFR53)
- Lukas 1:44: “Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring.” (AFR53). Hierdie gedeelte verwys na Johannes die doper wat gereageer het in Elizabeth se skoot toe hy in die teenwoordigheid van Maria gekom het wat ongebore Jesus gedra het.
Opsommend beskou hy die moederskoot as ‘n heilige en vormende omgewing, nie net fisies nie, maar ook geestelik. Wat in die moederskoot gebeur, beide positief en negatief, kan die kind se gees en toekoms diepgaande beïnvloed. Hy beklemtoon ook die geweldige geestelike gesag en invloed wat ouers oor hulle ongebore kinders het. Hy leer ouers dat die seëning van die baba tydens swangerskap ‘n kragtige hulpmiddel kan wees om negatiewe generasiepatrone, vloeke en goddelose invloede wat andersins oorgedra sou word, te breek.
Ek is seker daar is nog inligting, bedieninge en kerke wat mense hiervan leer. Ek wil graag lesers aanmoedig om self verder te lees en te ondersoek. Ek kan ook die bedieninge van Retha McPherson (Retha McPherson Ministry), Sahnet Schoeman (Schoeman), Kanaan Ministries (Kanaan Ministries) en Derek Prince (Derek Prince Ministries) aanbeveel. Uit sestig jaar ervaring van bediening, is Derek Prince van mening dat verwerping een van die diepste wonde is wat die mens se gees moet verduur. Maar daar is goeie nuus dat hierdie tipe wonde kan genees word.
Verwerping sou ongelukkig ‘n groot tema in my lewe word as gevolg van my pa se gebrokenheid en die wonde wat hy in sy lewe gedra het.
In ‘n opvolgende gebedsberadingsessie het dit aan die lig gekom dat daar ook teleurstelling was dat ek ‘n dogtertjie was. Ek sal nooit weet of dit gespreek was of dalk net ‘n fluistering in die hart was nie, maar hoe verwonderend is dit dat hierdie indrukke well deur my innerlike mens opgetel was.
Vrymaking van Verwerping
Volgens Derek Prince (‘n bekende Britse teoloog wat van 1915 tot 2003 geleef het, sien gerus meer oor sy bediening in die bronnelys) kan ‘n mens verwerping definieer as ‘n emosie van die hart, ‘n ingesteldheid of miskien ‘n onvermoë om aanklank by iemand te vind.
Die teenoorgestelde van verwerping is aanvaarding.
Sinonieme vir verwerping sluit in: uitgesluit, waardeloos, nie regtig behoort nie, die gevoel dat jy ongewens of onbegeerlik is.
Volgens hom is dit die mees algemene en diepste wond wat die menslike hart kan ervaar.
Verwerping gaan ook gewoonlik gepaard met die ervaring van skande (afkeuring of minderwaardigheid) en skaamte. Derek Prince noem dat skande en skaamte die eksterne effek van verwerping is. Die interne effek van verwerping word in Jesaja 57 ‘n verbryselde gees genoem. ‘n Verbryselde gees kan ook ‘n gewonde gees of ‘n gebroke gees genoem word. Dit is iets wat ‘n mens ook op jou genesingspad moet erken.
***
My ervaring is dat verwerping die dieper wortel van baie van my probleme was. Dit kan soos onkruid versprei oor ‘n tuin. En, soos onkruid, het dit ‘n oorsprong. As jy die plantjie van oorsprong kan identifiseer, is dit baie makliker om die onkruid en sy netwerk te vernietig. Net so is dit partykeer nodig dat die Heilige Gees vir ons uitwys waar verwerping in ons lewens ingekom het.
Dit was inderdaad ‘n onaangename verassing vir my toe Hy dit vir my uitwys het, maar dit was nodig vir my genesingproses. My eerste belewenis van verwerping was in die baarmoeder en die impak daarvan was soveel groter omdat dit van my ouers af gekom het.
Het hulle dit opsetlik bedoel om my skade aan te doen? Nee. Hulle was seker ook net besig om te worstel met die feit dat dinge nie volgens plan verloop het nie.
In dieselfde sessie waar die Here kom wys het dat ek tydens swangerskap verwerp was, het die berader vir my vir genesing gebid en die kragtige bloed van Jesus oor hierdie oomblik in my lewe gepleit. Ek het ook my ouers vergewe, want sonder vergifnis raak ek nie vry van daardie seer in my lewe nie.
Partykeer is dit een groot ommekeer wat dan gevolg word deur kleiner uitruiltransaksies van jou seer en pyn vir Sy genesing.
‘n Geleentheid vir Genesing
Dalk lees jy hierdie en jou hart is seer omdat jy weet jy was nie reg vir kinders toe daar dalk al kinders in jou lewe opgedaag het nie. Of dalk weet jy self dat jy nie in ideale omstandighede gebore is nie. Maar moenie bekommer nie. Weet dat Vader God kan en sal kom genees as jy Hom toelaat. Abba Vader, Jesus en Heilige Gees wil elke dag van jou lewe saam met jou ‘n genesingspad stap. Vader God is buite tyd en verstaan wat gebeur het. Ontvang Sy genesing vir jou, jou gesin en jou familie. Ek spreek nou genesing oor jou, jou gesin en jou familie in Jesus se naam.
Wonde in jou gees is moeilik om te definieer en te diagnoseer. Net soos ek in die verlede, dra baie mense wonde in hulle gees waarvan hulle nie bewus is nie. In Derek Prince se woorde in sy boodskap “A wound only God can heal”: “They’ve covered it over. Their mind won’t face them. Their memory doesn’t recall them, but they’re there deep down in the innermost area of man, which is called the spirit.” (Derek Prince Ministries)
Die Here is getrou om ons te wys waar daar wonde is. Dit is belangrik om Hom toe te laat om ons te lei in die proses van genesing in ons lewens.