| JESAJA 54 My liefde vir jou sal nooit verdwyn nie 1Jubel, onvrugbare vrou, jy wat geen kinders in die wêreld gebring het nie, jubel en juig, jy wat geen geboortepyne geken het nie, want jy, verstote vrou, gaan nou meer kinders hê as een wat getroud is, sê die Here. 2Maak groter die plek vir jou tent, maak breër jou tentdoeke, moenie suinig daarmee werk nie. Maak langer die tentlyne en slaan die tentpenne dieper in, 3want jy sal na alle kante toe uitbrei; jou nageslag sal nasies verdryf en in die stede wat nou verwoes is, gaan woon. 4Moenie bang wees nie, jy sal nie weer in die skande kom nie, moenie so verleë daar staan nie, jy sal nie weer verneder word nie. Jy sal die skande uit jou jong dae vergeet en nie meer dink hoe jy verneder is toe jy ‘n weduwee was nie. 5Hy wat jou gemaak het, is jou man, sy Naam is die Here die Almagtige. Die Heilige van Israel is jou Verlosser; Hy word die God van die hele wêreld genoem. 6Jy is ‘n verstote en bitter bedroefde vrou, maar die Here roep jou terug, want hoe kan ‘n man sy eie vrou vergeet? sê jou God. 7Net ‘n oomblik het Ek jou verstoot, in my groot liefde vat Ek jou terug. 8In ‘n opwelling van toorn wou Ek ‘n kort tydjie niks met jou te doen hê nie, maar Ek ontferm My oor jou met ‘n liefde wat nooit vergaan nie, sê die Here, jou Verlosser. 9Soos met die waters van Noag is dit vir My: soos Ek met ‘n eed bevestig het dat die waters van Noag nie weer die aarde sal oorstroom nie, so bevestig Ek met ‘n eed dat Ek nie langer toornig op jou sal wees en jou sal straf nie. 10Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie, my vredeverbond met jou sal nooit wankel nie, sê die Here, wat jou liefhet. 11Jy, verdrukte, bedreigde stad vir wie daar nie uitkoms was nie, Ek sal jou klippe vasmessel met goeie klei, Ek maak jou fondamente van saffiersteen 12Ek maak jou torings van robyne en jou poorte van smarag, jou hele stadsmuur van kosbare klip. 13Al jou inwoners sal leerlinge van die Here wees, en hulle sal altyd vrede geniet. 14Geregtigheid sal in jou heers. Jy hoef nie bang te wees vir verdrukking nie, ook nie vir verskrikking nie, want dit sal nie naby jou kom nie. |
Inleiding
Jesaja 54, wat ‘n mooi hoofstuk. Soos ‘n padkaart na ‘n skat toe. Die storie kronkel en draai, vol ryk beelde, en eindig soos alle sprokies. Jesaja 54 is ‘n hoofstuk wat ek diep in my hart gebêre het aan die begin met my reis saam met die Here. Dit is ‘n hoofstuk in die Bybel wat my lewe op soveel areas vasvang:
- Van ondergang tot glansryke oprigting.
- Van stukkende seer tot volkome herstel.
- Van swaarkry en seerkry, uitgelewer aan omstandighede wat ek nie gekies het nie en verkeerde besluite wat ek gemaak het uit seer en onkunde, tot genesing en diepe vrede van my Here.
Soveel raakpunte tussen my en Israel, God se volk wie Hy aanspreek hier tydens hulle Babiloniese ballingskap in 586–538 v.C. Hy belowe om hulle te genees van hulle pyn en oorvloedig te seën.
Ek ken ook seer. Pyn.
Vers 11 se beeldspraak van ‘n stad vang iets vas van my verlede. In die Amplified Bybel sê dit: “afflicted city lashed by storms.” Dit is presies hoe my lewe gevoel het… ellendig.
“Afflicted” se definisie is: “a state of pain, distress, grief, or misery.”
Baie seer.
Het jy al seergekry?
Baie seer?
Dan is die boek, of storie, vir jou.
My lewe is ‘n storie van troos, van hoop, van oorwinning. Dit is ‘n storie van trane, mense wat my kom bystaan en die kerk wat my plek van genesing geraak het nadat ek gruwelike ontnugteringe in die wêreld gehad het.
Hierdie storie openbaar ‘n lewende God in my lewe wat ek leer ken het as die Waarheid nadat ek talle paaie gevolg het. Dit spreek van Sy konstante omgee waardeur Hy nie ‘n enkele oomblik opgehou het om my op te tel nie. Sy teenwoordigheid in my lewe het my keer op keer versorg, my wonde salf gesmeer en met my hart gepraat.
Ek het besluit om hierdie boek oor kern oomblikke van my lewe te skryf. Hierin lê daar skatte van redding, openbaring, leer, groei en vrykom. Dit is ‘n storie van ‘n Vors wat omgegee het oor my lewe en my sagkens teruggewen het na Hom toe. Ek het geval in die helle van hel in; ek was erg seer en van die pad af.
My hart saam met Vader God is dat daar genesing sal wees vir almal wat hierdie boek oopmaak, my ingesluit.