Inleiding

Jesaja 54, wat ‘n mooi hoofstuk. Soos ‘n padkaart na ‘n skat toe. Die storie kronkel en draai, vol ryk beelde, en eindig soos alle sprokies. Jesaja 54 is ‘n hoofstuk wat ek diep in my hart gebêre het aan die begin met my reis saam met die Here. Dit is ‘n hoofstuk in die Bybel wat my lewe op soveel areas vasvang:

  • Van ondergang tot glansryke oprigting. 
  • Van stukkende seer tot volkome herstel.
  • Van swaarkry en seerkry, uitgelewer aan omstandighede wat ek nie gekies het nie en verkeerde besluite wat ek gemaak het uit seer en onkunde, tot genesing en diepe vrede van my Here. 

Soveel raakpunte tussen my en Israel, God se volk wie Hy aanspreek hier tydens hulle Babiloniese ballingskap in 586–538 v.C. Hy belowe om hulle te genees van hulle pyn en oorvloedig te seën.

Ek ken ook seer. Pyn.

Vers 11 se beeldspraak van ‘n stad vang iets vas van my verlede. In die Amplified Bybel sê dit: “afflicted city lashed by storms.” Dit is presies hoe my lewe gevoel het… ellendig.

“Afflicted” se definisie is: “a state of pain, distress, grief, or misery.”

Baie seer.

Het jy al seergekry?

Baie seer?

Dan is die boek, of storie, vir jou.

My lewe is ‘n storie van troos, van hoop, van oorwinning. Dit is ‘n storie van trane, mense wat my kom bystaan en die kerk wat my plek van genesing geraak het nadat ek gruwelike ontnugteringe in die wêreld gehad het.

Hierdie storie openbaar ‘n lewende God in my lewe wat ek leer ken het as die Waarheid nadat ek talle paaie gevolg het. Dit spreek van Sy konstante omgee waardeur Hy nie ‘n enkele oomblik opgehou het om my op te tel nie. Sy teenwoordigheid in my lewe het my keer op keer versorg, my wonde salf gesmeer en met my hart gepraat. 

Ek het besluit om hierdie boek oor kern oomblikke van my lewe te skryf. Hierin lê daar skatte van redding, openbaring, leer, groei en vrykom. Dit is ‘n storie van ‘n Vors wat omgegee het oor my lewe en my sagkens teruggewen het na Hom toe. Ek het geval in die helle van hel in; ek was erg seer en van die pad af. 

My hart saam met Vader God is dat daar genesing sal wees vir almal wat hierdie boek oopmaak, my ingesluit.

Hoofstuk 1