Hoofstuk Een: Die Voetstappe van Vroeër Jare

Nie alles was sleg nie. Maar met nabetragting dink mens partykeer mos terug na mens se lewe en verstaan hoekom dinge skeef geloop het. ‘n Mens besef dit nie as kind nie, maar as jy later in jou lewe die skeefgetrekte pyle weer terugwerk vanwaar dit uitgegaan het, dan is dit ‘n verligting om te besef dit was nie altyd alles jou skuld nie.

Mens word gebore in situasies in wat jy nie gekies het nie. Maar het jou Skepper daarvan geweet? O ja.

O ja, Hy het geweet.

Dit is dikwels my gesprek met Hom. Hoe kon dit met my gebeur? Dit was aaklig; ek was lewensmoeg en stukkend—“lashed by storms”.

Maar keer op keer het ek in hierdie oomblikke ervaar hoe die Here ‘n indruk op my los van saam hartseer wees.

Dit is vir Hom hartseer wat ons van ander erf.

Dit is vir Hom hartseer as ons vasgevang word in plekke, situasies en verkeerde goed wat ons blind maak, verwoes en verhard.

Hoor my ‘n bietjie uit.

In die twintig jaar sedert ek weer my hart vir die Here gegee het, kan ek net getuig dat genesing baie lae kan hê, soms vinnig gebeur en soms jare vat.

As ek oor ‘n tydlyn praat, verstaan ons almal dat ons tydlyn nou verweef is met die generasies voor ons. Elkeen van ons is gebore in ‘n omgewing en storie wat oor eeue ontwikkel het.

My storie begin in Germiston, Johannesburg. My ouers het mekaar in Johannesburg ontmoet. My ma spesifiek was nuut in die area van die Wes-Kaap af, nadat sy afgestudeer het as ‘n onderwyseres by die Universiteit van Stellenbosch. Sy het my pa, ‘n nuut afgestudeerde mediese dokter, ontmoet by ‘n geselligheid. Die romanse het vinnig ontwikkel en die kansel het gewink vir die twee jong verliefdes. Ek was blykbaar amper ‘n wittebroodbaba ook, en het ‘n paar maande na die troue opgedaag.

My ma het ophou werk om vir my te sorg terwyl my pa sy mediese diensverpligtinge klaargemaak het in Germiston. Vinnig het hulle teruggetrek na die meer westerlike voorstede van Johannesburg, waar albei se ouers gebly het.

Al drie my grootouers was besonderse mense wat die mooi van die lewe uitgeleef het en positiewe teenwoordighede in my lewe was. Spesifiek die liefde van pa se pa vir Jesus as ‘n leraar van die Woord en die kunssinnige sagtheid van my ma se ma in die vorm van ‘n klavieronderwyseres (met ‘n gawe vir harmonie) het diep indrukke op my lewe gelos.

My pa se ma was weer ‘n dinamiese en onvergeetlike gasvrou. Die breë familie het gereeld by haar Sondagetenstafel met heerlike boerekos aangesit. Ek proe steeds haar aartappels, skaapboud en rooikool. Alles was besonders want sy was die hart van die familie en het almal om die tafel onthaal in eg Afrikaanse hartlikheid en liefde. Ook het sy verskillende bedieninge en fondsinsamelings in haar gemeenskap gelei wat nou nog voetspore los in die area waar sy en Oupa bedien het.

Dit was veral hierdie kant van die familie wat ek met verwondering na opgekyk het as jong meisie. Daar was iets eg aan Jesus in my Oupa se lewe wat ek as klein dogtertjie kon onderskei en baie van gehou het. Ek het ook die vele talente van hierdie kant van die familie bewonder, afkomstig van ‘n liefde vir kennis spesifiek en seker ook om genesing en herstel in verskeie mense se lewens te bring. My pa se kant van die familie vind hulself in akademiese poste, die mediese profesie en heelwat probleem-oplossende ingenieursposisies.

Aan my ma se kant het ons weer ‘n sterk teenwoordigheid van sportliefhebbers (spesifiek tennis), kunssinniges en besigheidseienaars. Ongelukkig het ons nooit my ma se pa geken nie. Hy was oorlede in sy slaap net ‘n paar jaar sy en Ouma se troue. Die ouma van my moes in die tyd vier kinders onder die ouderdom van ses jaar oud groot maak.

Sy was een van die eerste vrouens in Suid-Afrika wat ‘n uitvoerende klavier lisensiaat gekry het in ‘n tyd waar dit skaars was vir vrouens om so ver te studeer.

My ouma het my vertel dat sy graag ‘n konsertpianis wou word en dat haar lewe deursyfer met musiek, leerlinge en vele musiekinstrumente was.

Wat my ook bybly van haar, is haar vermoë om in haar latere jare haarself te omring met alles wat mooi is in die lewe.

Dit was net ‘n plesier om in haar spasie in te beweeg. Sy het alles onder die son probeer. Pottebakkery, verf en selfs matte geweef. Sy het ook funky helder pienk, geel en pers hofskoene gehad wat sy met bypassende krale gedra. ‘n Kleurvolle reënboog mens wie se omgewing gespreek het van stille vrede en vreugde. Ek het haar geselskap en teenwoordigheid in my lewe baie geniet.

Soos wat ek teruggekyk het na my vroeër ontwikkelingsjare, is ek net weer herinner aan hoe vatbaar klein kindertjies is vir ‘n wye spektrum van indrukke. 

Kinders het ontvanklike harte. Ek het ook geleer dat ‘n kind se gees volwasse is, in kontras met die res van hulle ontwikkeling. Die mooi van ons familielede los ‘n blywende indruk op ons klein kinderhartjies, wat mens nie sommer vergeet nie. 

Maar dan kan ek nie nalaat om te sê dat kinders ook terselfdetyd ontvanklik is vir ongoddelike indrukke wat ‘n impak op hulle lewens maak.

Hoofstuk 2