Oorkom Depressie

Ek bid vanoggend en vra die Here hoe moet ek hierdie skryfstuk begin. Ek hoor in my hart/gees, 1 Korinthiërs 12. Dit gaan oor die liggaam. Die liggaam waarvan ons deel is.

Die “eenheid van liggaam nieteenstaande die verskeidentheid van lede”. Oor die verskydenheid van gawes.

Jy is uniek, begaafde en deel van ‘n liggaam. Jy is kosbaar en gaan ‘n gaping los, mense gaan jou mis. Mense gaan uitmis as jy nie hier is nie. Daar gaan ‘n funksie wees in die liggaam wat nie vervul gaan word nie. Die liggaam gaan swaarkry, skeeftrek, sukkel.

Daarom is dit belangrik dat jy depressie oorwin. Want depressie wil mens doodmaak, jou lewe steel en jou verwyder.

Kom ek begin met my storie van depressie.

Ek het hierdie maand 46 jaar oud geword. So paar weke gelede het ek gaan stap op ‘n plaas in Pretoria en net die ligtheid, veerkragtigheid in my binneste ervaar.

Ek het in my hart ‘n gesprek gehad met die een na wie ek altyd uitroep as ek voel die lewe wil my verwoes.

Daardie gesprek met iemand wat jy hoop groter as jy is, want jy besef jy is klein, kwesbaar (definisie: blootgestel aan gevaar of skade).

Jy en ek wat hier op die blad is het skade gelei. Ek neem aan jy is hier want jy ken depressie of iemand wat dit het in jou familie of vriendekring.

Nou ek gaan nie bladsye en bladsye van hulp kan beskikbaar maak hier nie, daar is baie baie paaie en materiaal beskikbaar, amper te veel. Watter pad vat mens?

Dit is die ding.

Hier is ek om vir jou te skryf hoe my pad gelyk het en nogsteeds lyk. Ons almal weet almal se paaie is verskillend blah blah blah, ons ken die storie.

Tog.

Tog, ware blywende oorwinnig. ‘n “Delete”. Dit is my storie. Ek het baie ander stories hier op nommer 46, die totale jare van lewenservaring. Ek het drie miskrame gehad, kanker vlak 4 gediagnoseer, verslawings oorkom, in die okkulte verstrengel geraak. Ek is nog hier, en nie net net nie, maar met ‘n vol lewe van vreugde en hoop, sprinkel ‘n blommetjie by vir prag.

My lewe het geblom en verwelk nie. Ek het ‘n gesin, ek het ‘n huishouding, gesonde gemeenskap en kerk en alles wat mooi is het in my lewe kom hervestig.

Dit is die krag van Jesus. Daardie kleed wat mens aangryp…en…nie…laat…gaan…vir…een…oomblik…van die dae hier op aarde nie.

Jy moet diepter gaan met Hom.

Die begin van my depressie – 17 jarige ouderdom

Dit is erg om op 17-jarige ouderdom gediagnoseer te word met depressie. My pa het gesê “dit hardloop in die familie”.

Ek het geleer dit was nie die waarheid ten opsigte van my storie nie.

Die waarheid was dat ek as jong meisie trauma ervaar het in ons ouerhuis. Seksuele mishandeling deur ‘n buurman (sien Hoofstuk 3), verlatenheid deur ‘n Pa wat ongediagnoseerde outisme gehad het en ‘n ma wat nie regtig my wou gehad het nie tydens die kritiese begin maande van my lewe.

Vandag is my ma en pa nie meer daardie mense nie, die Here het ook ‘n werk in hulle lewens kom doen, maar dit verander ongelukkig nie wat in die verlede gebeur het nie en waardeur ek moes deurgaan nie.

Wat ek geleer het is dat trauma op ‘n ontwikkelende brein van ‘n jongmens skade los. Dit is die fisiese, liggaamlike komponent.

Oorsprong van my depressie

Dan op ‘n sielsvlak kry jy ook wonde, maar die grootste wond wat mens kan opdoen is verwerping. Verwerping kan tot in jou geesmens impak los (sien Hoofstuk 2). ‘n Wond in jou gees. Dit is baie skadelik en moeiliker om te genees. Mens kan net geeswerk in die geestesdimensie doen en daarvoor het jy die Heilige Gees nodig.

My wond was inderdaad gewortel in my gees as gevolg van die nabyheid van die verhoudings waarin ek verwerping ervaar het asook die ouderdom wanneer die gebeur het.

Wat het gewerk, wat het nie gewerk nie

Ek was baie deurmekaar as tiener om met hierdie probleem opgesaal te word. Mens funksioneer nie meer gesond sosiaal nie. Mens begin ook skadelike dinge aan jouself doen soos ooreet, te begin rook of drink. Alles pleisters om die pyn te verminder.

Die pyn van waardeloos voel, die pyn van verwerping en verlating.

Ek was na ‘n berader geneem en daar was vir my gesê dat ek net moet “positief dink’. Maar ek het diep in my hart geweet daar is meer tot hierdie probleem.

My vriende op hoërskool het dit begin optel. Ek was “anders”. Hulle het dit nie gesê nie maar ek was uitgewerk uit my vriendekring. Hulle het nie geweet wat om te doen met my nie. Onthou, mens se brein word geaffekteer deur die trauma wat mens ervaar. Die trauma van hoe die mense teenoor jou optree wat die verwerping, verlatenheid en basies emosionele mishandeling in die vorm van afskeep jou toedien.

Op universiteit het ek net verder agteruit gegaan. Na universiteit nog meer. Ek het nie ingepas of kon aanpas by die nuwe fases wat die lewe vir my gebied het nie.

Ek het weggehardloop oorsee en daar in kontak gekom met “New Age” en daar het ek ervaar hoe iemand in my energieveld gewerk het.

Omdat ek geweet het my probleem loop diep het ek in New Age begin ondersoek instel. Ek het genesing nodig gehad.

Dit het glad nie goeie vrug gelewer in my lewe nie en die Here moes my radikaal red uit daardie leefwyse uit.

Toe begin die ware herstel vir die eerste keer. Deur die Assemblies of God kerk in Seepunt Kaapstad – Life Church het ek vir die eerste keer ingeloop in die teenwoordigheid van die Heilige Gees tydens ‘n diens.

Die atmosfeer was baie anders as enige iets wat ek al beleef het.

By die kerk het ek weer my lewe toegewy aan Jesus Christus en is vir die eerste keer geleer wat dit is om gedoop te word met onderdompeling en wat dit is om gevul te wees met die Heilige Gees met bewys van tale.

Saam met dit het ek in kontak gekom met ‘n bediening “Living Waters – Healing Sexual and Relational Brokeness“.

Hier het die Here vir my begin wys waar die wortel van my geestesiekte lê…in die gebroke verhouding met my pa spesifiek en later sou ek ook tot die insig kom, my ma.

Soos my pa vir my gesê het, “dit kom af in die familie”, weet ek hy het daarmee gesukkel asook my ouma aan my pa se kant van die familie.

Al drie van ons dink ek het verhoudingstrauma gehad.

Dit is waar mense nie begin nie. Dit is hoe mens depressie oorkom, om te besef dat jy die Heilige Gees nodig het om jou te help en dat mens dieper gaan moet kyk na verliese in verhoudinge. Net God kan ons genees van hierdie skade wat ons harte en siele opdoen.

Vanaf daardie punt in my lewe het ek begin ondersoek wat dit beteken om ‘n “father wound” te hê, ‘n diep “father wound”. ‘n Baie groot “father wound”.

Dit het my jare gevat maar die kern is dat ek geweet het waar die oorsprong vandaan kom en my geestelike ore kon spits as die Heilige Gees my aanmoedig om beraders te gaan sien of vir bevryding te gaan.

Die verhouding tussen depressie en bevryding

Ek het geleer dat wonde toegang gee vir bose geeste tot jou lewe. Bose geeste of demone is onliggaamde geeste van die Nephalim.

‘n Goeie bron of hiervan te leer is die “Generation Hoodwinked” deur Dr. Laura Sanger, of via haar bediening – No Longer Enslaved. Hier is ook ‘n lys van Kanaan Ministries.

Leave a comment